Navorsingsvelde en projekte
Agronomie
Die Departement Agronomie fokus op tradisionele saailand-gewasse, weidingsleer en die produksie van gewasse in kweekhuise. Voedselvoorsiening aan ʼn steeds toenemende wêreldbevolking is afhanklik van die suksesvolle verbouing van graan, proteïen- en oliesaadgewasse. In ontwikkelde lande is hierdie gewasse ook belangrike bronne van energie en pro-teïene in dierevoeding. Die gebruik van tradisionele voedselgewasse soos mielies, suikerriet, sonneblomme en canola vir die vervaardiging van etanol en bio-diesel geniet ook toenemend aandag. In hierdie studieveld word dus groot klem geplaas op verhoogde vlakke van produksie deur die optimale gebruik van hulpbronne, soos byvoorbeeld deur die gebruik van geografiese inligtingstelsels (GIS) in die toepassing van presisie-boerderytegnieke. Weens wêreldwye besorgdheid oor omgewingsbesoedeling geniet volhoubare produksiestelsels wat gewasrotasie met nuwe gewasse en bewaringsboerderypraktyke gebruik ook baie aandag. Wat aangeplante weidings betref, is een van die uitdagings die ontwikkeling van weidingsgewasse wat die vermoë het om die droër en warmer toestande, wat deur die kweekhuiseffek veroorsaak word, te trotseer. Ander probleme sluit in weerstand van onkruide teen onkruiddoders, asook die versuring en verbrakking van grond. Aandag word gegee aan die bestuur van onkruiddoderweerstand, asook die rol wat peulplantweidings in rotasiestelsels kan speel om grondvrugbaarheid in die winterreëngebied te verbeter. Die bestuur van natuurlike weiveld behels die benutting van die natuurlike weiplante sonder dat die omgewing ekologies beskadig word. Die herwinning van veld in ’n swak toestand uit die greep van erosie, bosverdigting en ander ekologiese probleme is ook van die ander groot uitdagings wat aangespreek word. Die Departement fokus ook op die kweking van gewasse onder grondlose toestande. Hoewel dit al vir 50 jaar moontlik is, is daar steeds baie uitdagings wat aangespreek moet word. Die jaarlikse tamatieproduksie van 30 kg/m2 in Suid-Afrikaanse kweekhuise vergelyk byvoorbeeld swak met die 70 kg/m2 en hoër wat reeds in Nederlandse en Belgiese kweekhuise onder swakker klimaatstoestande gelewer word. Deur noue skakeling en samewerking met ASNAPP (Agribusiness in Sustainable Natural African Products), ’n geregistreerde NRO (nie-regerings organisasie) poog die Departement om suksesvolle Afrika-besighede in die natuurlike plantegroeisektor te ontwikkel en in verskeie lande soos Senegal, Ghana, Rwanda en Zambië uit te brei. Die handelsnaam “Mpuntu” (“vooruitgang deur ontwikkeling”) is geregistreer en produkte sluit in kruie tee, speserye, medisinale plante en essensiële olies uit Afrika. Befondsing is onder andere ontvang van die National Development Agency, Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Sake en USAID (United States Agency for International Development). Nuwe projekte sluit in intensiewe plantproduksie, inheemse tee en speserye, essensiële olies, medisinale en kruieplante asook kiemplasma bewaring en die verspreiding daarvan.
Bewaringsekologie en Entomologie
Navorsing in die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie behels ʼn breë spektrum van suiwer en toegepaste bewarings- en entomologiese navorsingsonderwerpe. Navorsingsfokusse in bewaring sluit in die ruimtelike omvang van diversiteit; populasie- en gemeenskapsekologie van plantegroei in halfdorgebiede; dryfvere vir verandering (klimaats-verandering, oorontginning, habitatfragmentasie en die indringing van uitheemse plante) en hulle invloed op populasie- en gemeenskapstruktuur en -prosesse in Fynbos- en Karoo-plantegroei; metodes om potensiële bio-indikatore te toets en hulle toepassing in omgewingsmonitering en biodiversiteits-beramings; die bewaring en ekologie van krokodille en seeskilpaaie; en die bestuur van die herinskakeling van diere in gebiede (bv. witrenosters in die Kruger-wildtuin). Pogings tot die begrip van hoe groot herbivore plantegroei- en grondprosesse in oewer- en hooglandgebiede beheer, is onder navorsing wat tans deur Departementslede in die Krugerwildtuin onderneem word. Die Departement is ʼn leier op die gebied van navorsing oor die restourasie van natuurlike plantegroei in die dor streke van Suid-Afrika, insluitende myne in Namakwaland, weivelde in die Klein en Groot Karoo, sowel as bewaringsgebiede van die Wes-Kaap. Navorsing oor die ontwikkeling van bewarings-beleid behels die bepaling van die bewaringskenmerke van beleide gerig op die bestuur van natuurlike hulpbronne in suidelike Afrika met die doel om hulle biodiversiteits- en sosio-ekonomiese uitsette te optimaliseer. Die Entomologie-navorsingskomponent van die Departement het drie fokusareas: insek-ekologie en -bewaring, sistematiek en geïntegreerde plaagbestuur (GPB). Invertebraat-bewaringsbiologie fokus op landbou- en varswaterstelsels, sowel as op tropiese en sub-Antarktiese eilande en dierparasiet-ekologie. Sistematieknavorsing fokus op die Hepialoidea, Zygaenoidea en Tortricicoidea (Lepidoptera), veral die sistematiek van plaag taksisse van ekonomiese belang. Geïntegreerde plaagbestuur het te make met navorsing oor insek- en mytplae en oor entomopatogeniese aalwurms. Alternatiewe vir chemiese beheer van kodlingmot word benodig en daarom word die gebruik van entomopatogeniese aalwurms as omgewings-vriendelike beheermiddel ondersoek. Tans word die steriele insektegniek (SIT) op kodlingmotte ondersoek. Monsternemingstelsels vir die monitering van insekplaagpopulasies word ontwikkel en vrugtevlieggedrag word ondersoek. Die beheer van wingerdwitluis behels paringsontwrigting, geïntegreerde en biologiese beheer, sowel as die modellering en verifikasie daarvan. Ander werk behels die fenologie en biologiese beheer van Pseudococcus viburni op appels en pere, en navorsing word ook op die olyfvlieg gedoen. Navorsing oor marktoegang sluit in fitosanitêre plae van sagtevrugte en die ontwikkeling van versagtings-behandelings om fitosanitêre beperkings in die vrugte-uitvoermark te hanteer.
Bos- en Houtkunde
Die Departement Bos- en Houtkunde se navorsingsareas sluit die breë spektrum van boskultuur, bosbestuur, afstands-waarneming, agro-bosbou, bosingenieurswese, asook primêre en sekondêre houtprosessering tot pulp en papier in. By boskultuur is die fokus op die responsmeganisme van denne-opstande tot veranderinge in die beskikbaarheid van groeimiddels (water, voedingstowwe en lig); en die langtermyn effek van intensiewe bestuur op die volhoubare benutting van industriële plantasies en droogtebestande hibriede van Eucalyptus grandis x camaldulensis. By bosbestuur is die klem op modellering van groei en vooruitskatting van opbrengs. Huidige projekte sluit in die skatting van biomassa in opstande van mopanie; ’n boomvolume vergelyking vir Sclerocarya; die invloed van besproeiing met afvalwater vanuit pulpmeulens op bosmeetkundige parameters; en bosinventarisasie deur nie-vakkundige kontrakteurs. By afstands-waarneming is ons besig met geoutomatiseerde bosinventarisasie wat gemik is op bosopnames deur middel van digitale beeldverwerkingstegnieke; lae koste fotogrammetrie wat die gebruik van ligte en onbemande vliegtuie vir die doel navors; inventarisasie konsepte vir oop bosse en geslote woude in die noorde van Namibië; ontwikkeling van konsepte rondom die meet van die waarde van inligting; kapasiteitsoudit en oordrag van kennis op ruimtelike ontledings met behulp van werkswinkels aan persone in nasionale departemente van landbou en bosbou; asook ʼn droogland versoutingsprojek in die Bergrivier. In agro-bosbou word gefokus op droëland agro-bosbou; hulpbronbenutting (water, voedingselemente en lig) in agro-bosboustelsels; kommersialisering van inheemse bosbouprodukte vir gebruik in die vermindering van landelike armoede; die lewensonderhoud en inkomstegenerasie van houtsneehandelaars; bestuur van inheemse vrugtebome vir verbeterde produksie; die bestuur en benutting van natuurlike bosse; die ontleding van plantegroeiverandering en ekologiese herstel van die Koperbelt Miombo boomveld van Zambië; en die monitering van die impak van Aucoumea klaineana ontginning op ander woudspesies in Gaboen. Die klem by bosingenieurswese sluit in logistieke en netwerkbestuur; die toepassing van informasie en kommunikasietegnologie vir optimalisering van operasies; en presisiebosbou en die bestuur van inligting en kennis. Houtprodukkunde se navorsing sluit in modellering van houtkwaliteitparameters van Suid-Afrikaanse dennespesies; drogingseienskappe en vogbeweging in Eucalyptus pale; omskakeling van lignien (’n neweproduk van die houtverpulpingsproses) na ’n kunsmis wat stikstof stadig vrystel, chemiese opper-vlakstrukture van hout- en pulpvesels; die eienskappe van soliede hout, houtveselprodukte en biomateriale; neweprodukte van die verwerking van hierdie materiale en verwerkingstegnologië daarvan; pulphout-evaluering, die bepaling van die kwaliteit van pulp en papier vervaardig van hout uit bome wat deur biologiese aanval beskadig is; die vervaardiging van sekuriteitspapier; die evaluasie van die grondstowwe en vervaardiging van bordprodukte; natuurlike verweringstoetse op bedekkingsmiddels op vensterrame; en die gebruik van alternatiewe houtprodukte in die wynmaakproses.
Genetika en die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB)
Die Departement se navorsingsfokusareas sluit aan by die matriksstruktuur waarvolgens die departement funksioneer. Fokusareas binne plant-, diere- en mensgenetika sluit onde-rsoeke op kwantitatiewe- (teling), populasie-, en molekulêre- (biotegnologiese) genetiese gebiede in. Navorsing oor plantgenetika sluit in die genetiese modifisering van wyndruiwe vir verbeterde virusweerstand; die isolering en molekulêre karakterisering van plant natiuretiese peptiede in wingerd en hulle moontlike toepassing in verbeterde droogte- en siekteweerstand; koring- en triticale-teelt; en die oordrag van nuttige gene (siekteweerstand en soutverdraagsaamheid) vanaf wilde verwantes na koring en triticale. Akwakultuur-navorsing behels die populasiestruktuur en genetiese diversiteit van verskeie akwakultuur asook mariene spesies deur die gebruik van molekulêre analise, en die genetiese verbetering van verskeie spesies (forel, baber, tilapia, perlemoen) vir kommersiële produksie. Die mensgenetika-navorsing fokus op analises van die gene betrokke in ysterregulering, die heem biosintetiese weg en geneesmiddelmetabolisme; farmakogenetiese toepassing in siektetoestande in Suid-Afrikaanse populasies, sowel as pre-eklampsie (kandidaat geen-ondersoeke en aanpassing van behandeling).
Grondkunde
Die Departement Grondkunde se navorsing behels die studie van die bydrae van landbou-aktiwiteite tot die versouting van die Bergrivier, die waterbalans van besproeide vrugtegewasse, die modellering van waterbeweging, herwinning van versuurde gronde deur middel van industriële afvalprodukte, grondvrug-baarheid in kleinskaalse boerderye, ekosisteme en biodiversiteit, en bosbou en die beskerming van natuurlike hulpbronne teen besoedeling. Projekte wat deur die Water Navorsingskommisie (WNK) befonds word, sluit in die bestudering van die bydrae van ʼn verandering in landgebruik tot die versouting van waterbronne, die klassifikasie van gronde in terme van hulle bydrae tot die gevoeligheid van ondergrondse water vir besoedeling, en die effek van die verwydering van indringerplantegroei op stikstof. Afrika-inisiatiewe sluit in navorsing oor grondbeperkende faktore op kleinskaalse boerderye in Zambië en op die plantasieverbouing van kiaat in die Soedan. Ekologiese grondnavorsingsprojekte sluit faktore in soos grondinfiltrasie, die ontrafeling van die misterie van geofagie, die bepaling van die grense van die savanna-grasland, die restourasie van subtropiese boskasies, terugsterf van bome in die Ngorongoro-krater en swartrenoster bewaring. Werk op die pedologiese raaisels van heuweltjies in die Wes-Kaapse landskap is voortgesit. Versuurde gronde van die Mpumalanga hoëveld is met as van die steenkoolkragsentrales behandel om vas te stel of die vlieg-as as bekalkingsbron in plaas van landboukalk gebruik kan word. Die Departement het ook waardevolle bydraes op die nasionale en internasionale vakgebied van grondklassifikasie gelewer.
Hortologie
Die Departement Hortologie doen dinamiese navorsing vir die sagtevrugte-, sitrus- en fynbosbedrywe en verskaf toegevoegde waarde aan bedryfsvennote t.o.v. tegnologie wat gemik is op die verhoging van hulle globale kom-peterendheid en winsgewendheid. Dit sluit in navorsing oor reproduktiewe ontwikkeling in sagtevrugtebome, met spesiale klem op faktore wat in reproduktiewe knopinduksie en -inisiasie betrokke is; die akkumulasie van droë massa in vrugte; boommanipulasie, onderstamme en lighuishouding; oesgedrewe voedingsbestuur-strategieë; en koolhidraat-akkumulasie en -benutting. Interaksies tussen die omgewing en sagtevrugte boomfisiologie en produktiwiteit, en spesifiek die effekte van klimaatstres op koolhidraatbeskikbaarheid, waterverhoudings en vrugkwaliteit, en klimaatsveranderlike tegnologieë in die boord, word bestudeer. Klem word ook geplaas op vrugkleurontwikkeling en faktore betrokke in die afbreek van kleur in appels en pere. Nog ʼn aspek van navorsing fokus op boomargitektuur, snoeistelsels, korrelatiewe verskynsels, onderstamme en dormansie van sagtevrugte. Die regulering van vegetatiewe en reproduktiewe groei en ontwikkeling van sitrusspesies, met klem op die verbetering van vrugkwaliteit, insluitend suikerakkumulasie, suurmetabolisme en skilkleurmanipulasie, en die verbetering van vruggrootte is verdere navorsingsrigtings. Ons na-oesfisiologie-navorsing (ingeslote selwandfisiologie en rypwordingsverwante afwykings) behels die tegnologie van fynbos, sitrus, kern-, steenvrugte en tafeldruiwe, insluitend hanteringsprotokols vanaf die punt van oes, deur verpakking, verkoeling en verspreiding, sowel as klimaatsinvloede op kwaliteit en nie-destruktiewe tegnologie vir die bepaling van vruggehalte. Buiten die na-oesnavorsing oor fynbos bestudeer ons ook blominduksie in proteas en Leucadendrons.
Landbou-ekonomie
Die belangrikste navorsingsfokus van hierdie Departement is gesetel in Agrifutura (landboukundige toekomsprojek), en in BFAP, (Bureau for Food and Agricultural Policy), ’n gesamentlike inisiatief van die Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, en die Departement Landbou-ekonomie aan die Departement Landbou: Wes-Kaap. Die doel van BFAP is om besluitneming in die landbousektor te ondersteun en om opleiding te verskaf op so ’n wyse dat die land se kapasiteit uitgebou word. Ander navorsing sluit in die besluitnemings-ondersteuning vir langtermyn water hulpbronbestuur in droë gebiede: insigte vanuit Suid Afrika; die strategiese besluitneming vir water hulpbronbestuur in droë gebiede; die hersiening van besluite geneem oor die uitfasering van private- en staatsplantasies in die Suid- en Wes-Kaap; ’n literatuuroorsig van die inset-uitset verhouding in akwakultuur; die impak van lede-eienskappe op die effektiwiteit van korporatiewe bestuur by wynkoöperasies; die bepaling van die effektiwiteit van die Suid-Afrikaanse sagtevrugte waardeketting: Suid-Afrika vs. Chili; die oorsake van voedselonsekerheid in Suidelike Afrika; swart ekonomiese bemagtiging in die wynbedryf; die winsgewendheid en mededingendheid van garsproduksie in Suid-Afrika; ’n institusionele benadering tot hulpbronbenutting onder gemeenskaplike grondbesit: ’n gevallestudie uit die Eritrese Hooglande en kontrakte as ’n instrument om swart boere toegang te gee tot hoofstroom landboukettings.
Plantpatologie
Navorsing in die Departement Plantpatologie fokus op wingerd, sagtevrugte, sitrus en akkerbougewasse, en sluit die volgende fokusareas in: swamtaksonomie (beskrywing en herklassifikasie van bekende en nuwe swamme deur die toepassing van verskeie metodes, onder meer molekulêre tegnologie); toegepaste molekulêre plantpatologie, insluitend die gebruik van molekulêr-gebaseerde tegnieke vir die opsporing, diagnose en karakterisering van plantpatogeen populasies; voor- en na-oespatologie (status en gedrag van inokulum op vrugoppervlakke, infeksieprosesse en plantweer-standsreaksies); stamsiektes (etiologie, diagnose, epidemiologie en geïntegreerde bestuur); swamdodergebruik (spuittegnologie) en swamdoderbestandheid (sensitiwiteit in wilde populasies en versteurings na blootstelling aan swamdoders, bestuur van swamdoderbestandheid); en geïntegreerde beheer (chemies, biologies en alternatiewe middels) van siektes. Nuwe of bestaande siekte-epidemies van ekonomiese belang word ook nagevors.
Veekundige Wetenskappe
Die Departement Veekundige Wetenskappe se navorsing fokus op die voeding, teling en fisiologie van diere, asook op dierlike produkte, soos vleis. Ten opsigte van herkouervoeding is navorsing hoofsaaklik gerig op die optimale benutting van beskikbare grondstowwe om die produksiedoeltreffenheid van beeste, skape en bokke te verhoog. Daar word sterk gefokus op rumenmetabolisme en ruvoer-fermentasietempo’s. Die gebruik van eksogene fibrolitiese ensieme om die verteer-baarheid van ruvoere te verhoog, is ook gedurende die afgelope vyf jaar ondersoek. Navorsing op enkelmaagdiere is gerig op verskillende aspekte van pluimveevoeding- en bestuur. Vanuit ʼn voedingsoogpunt word daar gekyk na die evaluering van nuwe grondstowwe, asook die verhoging in doeltreffendheid van die gebruik van konvensionele grondstowwe om sodoende nie alleen winsgrense nie, maar ook dierewelsyn te verhoog. Wat bestuursaspekte betref, word daar gefokus op die manipulering van die omgewing om die gesondheid en produksie van pluimvee te verhoog. Die navorsing op vleiskwaliteit fokus onder andere op die effek van voeding op die vleiskwaliteit van plaasdiere. ʼn Ander sterk fokusarea van vleisnavorsing is faktore wat die kwaliteit van inheemse vleissoorte beïnvloed. Hier word veral na die volstruis en wild gekyk. Navorsing in dierfisiologie fokus tans op industrieverwante fisiologiese- en reproduksieprobleme.
Voedselwetenskap
Die Departement doen navorsing op ’n paar terreine deur van moderne tegnologie gebruik te maak. Voedselmikrobiologie dek die opsporing, isolasie en voorkoming van bederf- en patogenemikrobes in voedselprodukte. Mikrobiese populasies word voor en na hittebehandeling van voedselprodukte bestudeer, met besondere aandag aan die mikrobes wat die hitteprosessering oorleef. Omgewingsbestuur in die voedse-lindustrie fokus op anaërobe vertering, die toepassings van osonering en algemene voedselprosessering. Naby-infrarooi spektroskopie (NIR) word toenemend in die voedselindustrie gebruik. ’n NIR-spektrofotometer is ’n analitiese instrument wat verskeie komponente sonder die gebruik van chemikalieë vinnig en gelyktydig kan kwantifiseer en kwalifiseer. Nadat die instrument vir ’n spesifieke toepassing gekalibreer is, kan gelyktydige resultate binne ’n minuut verkry word. Tans ondersoek ons toepassings vir inheemse kruie- en medisinale plante asook vir die bepaling van mikotoksiene in mielies. Vir laasgenoemde word die gebruik van hiperspektrale NIR beeldanalise ook ondersoek.
Departement Wingerd- en Wynkunde (DWW) & Instituut Wynbiotegnologie (IWBT) DWW
Hierdie Universiteit en Departement is die enigste in die land wat voor- en nagraadse studiegeleenthede in Wingerd- en Wynkunde aanbied.
Wingerdkunde:
Die generering van nuwe, innoverende en toepasbare kennis oor die wingerdstok en sy verbouing is die fokus van wingerdkundenavorsing in die Departement. Dit sluit in die ondersoek en kartering van omgewingseffekte op wingerdprestasie en wynstyl op die vlak van inter- en intra-wingerdvariasie, insluitend ʼn fokus op sekondêre metabolisme van die druif. ʼn Verdere fokus val op die integrasie van wingerdstokstresfisiologie, biochemiese weë en bestuurspraktyke om druif- en wynkwaliteit vir beide die tafeldruif- en wynbedrywe te optimaliseer. Die daarstelling van verbeterde wingerdmateriaal soos verkry d.m.v. somatiese embriogenese as beginpunt vir transformasie en genetiese manipulasie by bo- en onderstokkultivars is nog ʼn fokusarea.
Wynkunde:
Die wynkundige navorsing fokus op die invloed van die wyn-bereidingsproses (soos mikro- en makro-oksigenase, ens.), mikroörganismes (giste en bakterieë), byvoegings (soos tanniene en ensieme) en veroudering op wynsamestelling, -styl en -kwaliteit.
IWBT:
Die IWBT is die enigste navorsingsinstituut in die land wat primêr op wingerd- en wynbiotegnologie gefokus is en werk baie nou saam met die wyn- en tafeldruifbedrywe in Suid-Afrika. Die navorsingsportefeulje is in drie programme verdeel. Die eerste is die molekulêre karakterisering van metaboliese en seinweë in giste en die genetiese verbetering van wyngisrasse. Tweedens word gekyk na die genetiese verbetering van Saccharomyces cerevisiae vir bioetanolproduksie. Die derde program het betrekking op die genetiese verbetering van druifkultivars. Die IWBT was suksesvol in die bedinging van fondse vanaf CapeBiotech om ʼn maatskappy te vestig wat op die kommersialisering van die navorsingsuitsette van die IWBT gefokus is. SunBio het in April 2005 amptelik begin funksioneer. SunBio moet gereeld aan CapeBiotech rapporteer en die eerste verslae dui op baie goeie vordering. Die IWBT het deur middel van die Chemiese Analitiese Fasiliteit die omgewing se analitiese fasiliteit herorganiseer om die spilpunt te word vir wynchemieverwante aktiwiteite op die kampus.
Proefplase
Die Universiteit besit twee proefplase (Welgevallen en Mariendahl) wat hoofsaaklik aangewend word vir voorgraadse studente-opleiding en vir navorsingsprojekte van nagraadse studente, sowel as dié van personeel in die Fakulteit AgriWetenskappe. Die proefplase dien in die eerste plek as veldlaboratoria waar navorsingsprojekte en studente-opleiding onder hoogs gekontroleerde toestande uitgevoer word. Die plase word nogtans so bestuur dat die bes moontlike praktyksituasies nagestreef word. Waar moontlik word spaarkapasiteit op die proefplase vir kommersiële produksie aangewend ten einde die proefplase so ver as moontlik na selfvergoedendheid te bestuur.
Welgevallen:
Welgevallen is in 1917 aangekoop tydens die oprigting van die Fakulteit met die spesifieke voorwaarde dat ʼn proefplaas binne stapafstand van die kampus moes wees. Die oorspronklike grootte was 278 ha, waarvan daar nog net 120 ha beskikbaar is. Welgevallen word hoofsaaklik deur die akademiese departemente van die Fakulteit AgriWetenskappe benut. Die Departement Agronomie is in sy geheel daar gevestig, met verskeie laboratoria, klimatologiesbeheerde groeikamers, plastiektonnels, asook klein proefpersele. Die Departement Hortologie beskik oor goed gevestigde sagtevrugte- en sagtesitrusboorde, terwyl die Departement Wingerd- en Wynkunde wingerde van hoog-staande gehalte gevestig het. ʼn Eksperimentele wynkelder, waar wynbereidings op ʼn semi-kommersiële skaal uitgevoer word, is op die walle van die Eersterivier opgerig en met die nuutste tegnologie toegerus. Die Departement Veekundige Wetenskappe beskik ook oor uitstekende fasiliteite op Welgevallen, waar ‘n verskeidenheid van navorsingsaksies plaasvind. Hierdie Departement hou ʼn hoogs produserende Frieskudde aan wat beide vir opleiding en navorsing gebruik word. Daar is ook goed toegeruste fasiliteite waar intensiewe voedingsnavorsing met groot- en kleinherkouers uitgevoer kan word. Ander departemente wat ook gereelde aktiwiteite op die proefplaas bedryf, is Genetika, Grondkunde en Boskunde. Die Departement Genetika plant jaarliks 8 000 tot 13 000 segregerende populasies en suiwer lyne uit die koring- en korogteelprogramme onder droëlandtoestande op Welgevallenen Mariendahl vir siekte-evaluering en seleksie. Die Departement benut verskeie groeikamers en glashuise vir die maak van nuwe kruisings, uitvoer van saailing siekte-evaluering en die deurvoer van ʼn uitgebreide kruisingsprogram. Laasgenoemde program fokus op die daarstelling van spesieshibriede en sekondêre hibried derivate in ʼn poging om siekte- en soutverdraagsaamheids-gene uit die wilde spesies na die verboude grane oor te dra. Selfs departemente van ander fakulteite, soos byvoorbeeld Botanie (toetsing van suikerriet) en Soölogie (navorsing op byekolonies), benut van die fasiliteite wat die proefplaas bied.
Mariendahl:
Mariendahl (375 ha) is aangrensend tot die Elsenburg proefplaas ongeveer 14 km buite Stellenbosch geleë. Dit word hoofsaaklik deur die Departement Veekundige Wetenskappe benut. Die Fakulteit se uitstekende fasiliteite vir pluimvee- en varknavorsing is hier geleë. Die Departement Veekundige Wetenskappe beskik verder oor ʼn Simmentalerkudde, sowel as ʼn Dohnemerino- en vleismerinostoet. Al hierdie kuddes is van hoogstaande gehalte en welbekend in die bedryf. Hierdie fasiliteite word vir studente-opleiding sowel as vir bedryfsgerigte navorsing gebruik.
Navorsing op proefplase:
Die Fakulteit se proefplase word deur verskeie departemente as veldlaboratoria benut. Gedurende die 2006 verslagjaar is meer as 20 proewe op die twee plase uitgevoer. Departemente se navorsingsfokusareas word elders in die verslag bespreek onder die opskrif “Navorsing”.
Navrae oor proefplase:
Mnr Ivan Stevens
Proefplaasbestuurder
Fakulteit AgriWetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Tel: +27 21 808 4870 |